Lekkertjies by die Carmel market

Ons beplande 08:00 vertrek word uitgestel agv die reën. Teen 10:30 besluit ons dis nou of nooit en soek bus nommer 10, dieselfde een wat ons nie die eerste dag kon kry nie, die keer weet ons ten minste waar hy veronderstel is om te stop. Mens sou dink dat na gister se vinde van die kantoor sou ons weet waar om af te klim, maar dis tevergeefs en ons eindig ver ander kant die kantoor op soveel so dat die terug stap soontoe omtrent verder is as wat ons in die eerste plek sou moes stap van die hostel af.

By die kantoor het daar ‘n stuk of 10 mense sit en wag om geplaas te vra. Een van die dames vra my gelukkig of hulle kan help en ek verduidelik dat ek wil volunteer, maar geen volunteers visa het nie. Oorspronklik sê hulle mens kan nie een van binne die land af kry nie en ek sal die land vir drie weke moet verlaat. Ek lyk toe seker baie hartseer, want sy stel toe voor dat ek my paspoort daar los en Dinsdag terugkom dan sal hukle kyk wat hulle kan doen. Inlyn met ons besluit om slegs die stap te doen as ek nie ‘n visa kry nie los ek my paspoort daar. Ons gaan weer vir Hot Chocolate by die franse kafee en besef met ‘n skok dat dit my verjaarsdag is. Marleen koop toe vir my ‘n mega hot chocolate wat daarop neerkom dat hulle ‘n flake in die koppie gooi. Ek moet bieg dit was die lekkerste hot chocolate wat ek nog in my lewe gehad het.

Oppad terug na die hostel stap ons deur Carmel market, kolosale mark van vars produkte, klere, speserye, elektroniese ware en enige iets anders waaraan jy kan dink. Wat nog opvallend was is dat dit pynlik netjies en skoon is en die mense nie alles aan jou probeer afsmeer nie. Nee beteken nee. Ons koop massiewe aarbeie, drie aartappels (teen 3 NIS ‘n kilo) en kaas (teen 10 NIS vir 100g).