Lekker dooie see modder |
Ek maak Marleen om 09:00 wakker en in ‘n rekord tyd van 37 minute is ons sakke gepak. Ek skoffel vir oulaas deur die sand om te kyk of my foon nie dalk daar iewers begrawe was vir die afgelope 5 dae nie.
Ons gaan sê shalom vir Shalom, maar word eers vriendelik verplig om ‘n laaste koppie tee saam met hom te geniet. Nog ‘n dag nog ‘n nuwe geur van tee, vanoggend s’n is besonder verfrissend en mens kan maar net weer droom daarvan om sulke lekker tee self te maak.
Ons pak die steil bult na die pad aan en spekuleer hoe die dag gaan verloop. Ek berei Marleen voor op die ergste, ‘n 5 ure stap met ons swaar rugsakke tot by ‘n busstasie waar die bus dalk nie mag opdaag nie. Dit is alles verniet, want na 100m op die pad laai ‘n ou omie ons op. Tot ons ongeluk is hy ‘n self acclaimed taxi bestuurder en vra ons 20 NIS elk, natuurlik eers met die afklim slag by Ein Gedi.
‘n Halfuur later (op tyd, volgens die skedule wat ek ‘n leeftyd terug opgesoek het) kom die bus wel daar aan. Alles draai toe goed uit, behalwe dat ons op die vloer moet sit met ‘n soldaat wat se geweer na by manlikheid wys. Dit duur gelukkig net vir ‘n uur tot daar twee sitplekke oopgaan na ‘n pitstop.
Ek ontdek dat die bus wifi het en kry vir die eerste keer in 5 dae nuus van die buite wêreld. Ek ontvang twee lang hartroerende eposse van my ouers af, asook ‘n Couch Surfing Accept van Shoval Josephs. In Eilat bel ek haar oor Skype en sy reël met ons om haar oor 20 minute by die busstasie te kry.
Sy kom haal ons met oor stokou Subaru en neem ons na haar woonstel in dieselfde area as waar Liran se woonstel is. Ons het vir ‘n oomblik gevrees sy mag dalk in die selfde gebou bly. Haar wonstel is groot en ons het selfs ons eie kamer met internet toegang en alles.
Shoval werk ook van 16:00 tot 24:00, maar anders as Liran gee sy ons ‘n sleutel van haar flat en los ons om te doen wat ons wil met net een instruksie: “please eat the cake in the fridge and drink the beer, I have to many” so gesê, so gedaan.
Na ‘n heerlike stort vir die eerste keer in wat soos weke voel, gaan ons soos diewe in die nag na Liran se woonstelblok om ons wasgoed te was. 40 NIS en ‘n uur later sluip ons weer uit. Met die terug gaan slag besef ons dat ons onsself in een van daai buurte bevind waar elke gebou presies die selfde lyk en dat haar woonstel letterlik enige een van die 20 kan wees. Na ‘n paar sirkels en mure wat ons moes oorklim gewaar ons ‘n speelparkie wat bekend lyk. Vandaar kon ons darm ons pad terugvind tot by Rummie, haar hond.
Marleen praat al vir weke lank van pannekoek bak en teen 22:30 gee ons in en stap na die superette. 63 NIS vir eiers, meel, melk, kaas, worsies, my tradisionele chocolate melkie en Marleen se bier.
Marleen begin met die pannekoek terwyl ek met my ma hulle Skype, na twintig minute kry ek die moed om te sê: “Die eintlike rede hoekom ek gebel het is om mamma se witsous resep te kry.” Dit was egter lekker om weer hulle stemme te hoor.
Twee lepels botter gesmelt, meng met twee lepels meel tot klonte uit is, gooi een koppie melk by en mikrogolf dit vir 2 minute. Na ‘n minuut raak ek ingeduldig en sien dit is nog loperig, die logiese ding om te doen: gooi nog meel by. Die resultaat: rou deeg sous.
Dit smaak egter steeds uit die boeke uit en saam met Marleen se perfekte pannekoeke (een koppie meel, een koppie melk, 4/5 koppie water, 3 eiers en 50ml olie).
Rummie kondig Shoval se terugkoms aan soos hy haar motor se enjin herken. Ons val dadelik weg met lang diep gesprekke oor die Israeli regering, natural selection, hoe sy kan voel dat die wêreld tot ‘n einde kom (niks met 2012 te doen nie). Na ‘n paar biere en rooi wyn begin sy kos aandra. Die heerlikste kaaskoek, maple syrup koek, chocolate koek, kaas poffertjies en pannekoek met sjokolade en aarbeie. Ons sluit ons gesprekke 04:00 die oggend af met kruie tee uit miniatuur koppies.